Meganismes vir klagtes

Al die departemente, instellings en agentskappe wat by die saak betrokke is, poog om ’n hoë standaard van diens te verskaf, maar soms kan dinge skeefloop. Sekere stappe kan gevolg word indien jy tydens die strafregproses ontevrede is met die aanklaers of howe oor

  • die manier waarop jy behandel is
  • die inligting wat jy ontvang het
  • besluite wat geneem is.
Aanklaers

Die hof wat die saak gehanteer het, kan die meeste klagtes oplos.

As jy ’n klagte het, skakel met die senior staatsaanklaer by die betrokke hof. As die plaaslike  aanklaerskantoor egter nie die verwagte aandag aan die klagte gee nie, skakel die hoofaanklaer in die gebied. As die klagte steeds nie bevredigend gehanteer word nie, skakel die direkteur van Openbare Vervolging in die gebied. Hy of sy sal ’n onafhanklike ondersoek instel. As die klagte dan nog nie bevredigend gehanteer is nie, nader die nasionale direkteur van Openbare Vervolging.

As die klagte steeds nie bevredigend gehanteer is nie, nader die Kantoor van die Openbare Beskermer.

Let egter daarop dat dié kantoor net met klagtes oor administratiewe optrede genader kan word. Die Kantoor van die Openbare Beskermer kan kragtens wet nie besluite van die hof ondersoek nie.

Die howe

As die klagte oor die optrede van ’n voorsittende beampte handel, skakel die geregtelike hoof van die distrik. Die adres en telefoonnommer is beskikbaar by die  plaaslike landdroskantoor. Indien jy ontevrede is met die reaksie van die geregtelike hoof, skakel die geregtelike groepshoof van die bepaalde streek.

As die klagte oor ’n streekhof handel, skakel die streekhofpresident van die betrokke gebied. Die adres en
telefoonnommer is beskikbaar by die plaaslike landdroskantoor.

As die klagte oor ’n regter van die hoë hof handel, skakel die regter-president van die betrokke afdeling. Die adres en telefoonnommer is beskikbaar by die plaaslike landdroskantoor of die hoë hof.

As jy ontevrede is met die reaksie, skryf aan die Landdrostekommissie as die klagte oor ’n landdroshof handel, of aan die Regterlike Dienskommissie as die klagte oor ’n hooggeregshof handel. As die klagte steeds nie tot jou tevredenheid gehanteer word nie, nader die Kantoor van die Openbare Beskermer.

Indien die klagte oor hofpersoneel handel, byvoorbeeld klerke of tolke, skakel die hofbestuurder. As jy ontevrede is met die reaksie van die hofbestuurder, kan jy aan die direkteur van hofdienste of die direkteur-generaal van die Departement van Justisie skryf.