Bemarking

Die bemarking van diere is ’n boerderyproses wat met bepaalde besluite gepaard gaan. Faktore soos die diere se ouderdom, gewig, geslag, vrugbaarheid en nog baie ander speel ’n rol. Die hoofrede is ekonomies: die diere word vir finansiële gewin verkoop. Die finansiële sy van bemarking sluit die gebruik van die kwitansieboek, tjekboek, elektroniese finansiële oorplasings, die BTW-faktuur en verwante aspekte in.

Daarmee is die meeste vee-eienaars pligsgetrou, maar hulle besef nie dat hulle moontlik ander wetgewing oortree wat nie verband hou met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie. Wetgewing wat die bemarking van vee reguleer, beskerm die eienaar en alle rolspelers in die rooivleiswaardeketting aan wie die vee gelewer word. Hiervoor is die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959) en die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) gepromulgeer. Albei is steeds van krag. Die wette hanteer twee spesifieke aspekte van die bemarking van vee, naamlik die koop en verkoop asook die vervoer van vee, wat in hierdie hoofstuk kortliks bespreek word. Enigeen wat met vee handel dryf, het die plig om op hoogte te wees van alle wetgewing daaroor. Die inhoud van hierdie hoofstuk behandel net die hooftrekke van die wetgewing en moet nie as omvattend beskou word nie.