Veediefstalvoorkomingsforums
Die RPO het veediefstalvoorkomingsforums op nasionale en provinsiale vlak gestig om veediefstal die hoof te bied. Die forums werk volgens ’n redelik eenvormige stel huisreëls.
Die forums se hoofdoel is om ’n verteenwoordigende struktuur in die georganiseerde landbou se stryd teen veediefstal te vorm. Lede sluit in verteenwoordigers van die kommersiële en opkomende veeprodusente- organisasies, SAPD (veediefstaleenhede ingesluit), Korrektiewe Dienste, die Suid-Afrikaanse Weermag, die Nasionale Vervolgingsgesag sowel as die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Sake wat verband hou met veediefstal word verkieslik op provinsiale vlak gehanteer. Provinsiale rolspelers word aangemoedig om oplossings te vind en voorkomende maatreëls in plek te stel om
veediefstal doeltreffend te bekamp. Sake wat nie op provinsiale vlak opgelos kan word nie of sake van nasionale belang word na die nasionale forum verwys.
Die forums doen alles in hul vermoë om veediefstal en verwante misdade te voorkom en te bestry. Hulle voer ondersoeke uit en handel volgens die bevindings. Omdat voedselsekerheid in die land so belangrik
is, ondersteun die forums veeboere sover moontlik.
Die forums se werksaamhede behels die volgende:
- Evalueer bestaande beleid, wetgewing, strategieë en prosedures vir die bestryding en voorkoming van veediefstal en beveel aanpassings aan. Hulle maak ook aanbevelings ten opsigte van wetstoepassing en strafoplegging vir veediefstal.
- Beveel stappe aan wat veeboere teen verliese deur veediefstal kan beskerm, gegrond op die resultate van voorkomings en bestrydingsaksies en inligting oor die voorkoms en neigings van veediefstal.
- Identifiseer navorsingsbehoeftes en aspekte wat voorrang moet kry. Sulke navorsingsbehoeftes
word oorgedra aan erkende instansies soos die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die
Landbounavorsingsraad, die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, universiteite en ander wetenskaplike groepe wat die nodige navorsing kan doen. - Versamel verslae oor navorsingsprojekte, veediefstalneigings asook voorkomings en bestrydingsaksies en bring dit onder belanghebbendes se aandag.
- Werk saam met enige aanvaarbare organisasie of liggaam waardeur die doelstellings van die Veediefstalforum en die belange van veeboere bevorder kan word.
Die nasionale Veediefstalvoorkomingsforum het onlangs daarin geslaag om opleidingskursusse in die bekamping van veediefstal vir staatsaanklaers te laat instel. Verder het verskeie provinsiale forums deelgeneem aan die opstel van provinsiale skutwette en gepaardgaande regulasies. Die nasionale forum maak ook gebruik van regskenners binne die RPO om kommentaar te lewer op konsepwetgewing wat direk verband hou met die polisiëring, ondersoek en vervolging van veediefstalsake.
Daar is verskeie brandpunte wat ’n negatiewe invloed op die bekamping van veediefstal het. Eerstens is daar nog steeds produsente, insluitend dié in kommunale gebiede, wat nie hul vee ingevolge die bepalings van die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) brandmerk of tatoeëer nie. Dié nalatigheid aan die kant van die produsente verminder die kanse op die suksesvolle strafregtelike vervolging van veediewe. Indien die Nasionale Vervolgingsgesag nie bo redelike twyfel kan bewys wie die eienaar van die vee is nie, moet die beskuldigde die voordeel van die twyfel kry. Nie net sal hy of sy op die aanklag vrygespreek word nie, maar daardie gesteelde vee sal waarskynlik aan die beskuldigde teruggegee moet word. Produsente hou dikwels ook nie noukeurige rekord van veegetalle nie en veegetalle word nie gereeld gekontroleer nie.
Interne polisie-instruksies bepaal dat lede van die Gemeenskapsdienssentrum die eerste afgifte van misdaad moet hanteer. Baie van die polisielede is totaal onkundig oor die bewaring van misdaadtonele en wat vereis word wanneer ’n veediefstaltoneel besoek word. Waardevolle inligting en getuienis gaan dikwels verlore.
Daar bestaan in sommige gevalle gebrekkige vertrouensverhoudinge tussen produsente en veediefstalondersoekbeamptes. Dit is grootliks te wyte aan ’n gebrek aan behoorlike kommunikasie en is dikwels op verkeerde persepsies gebaseer. Die suksesvolle vervolging van veediefstalsake ly ook by howe skipbreuk, eerstens omrede sommige staatsaanklaers weinig of geen ondervinding van sulke sake het nie. Tweedens word die regte van slagoffers soos verskans in die Slagoffershandves deur sommige polisiebeamptes en staatsaanklaers misken.
Dit is egter belangrik om te besef dat alhoewel slagoffers van misdaad sekere regte het, hulle ook verantwoordelikhede het. Net omdat jy skade gely het, gee dit jou nie die reg om oneerbiedig op te tree nie. Doen eerder moeite om verhoudings met amptenare te bou.