Bewaring van toneel en bewyse

Die toneel van die misdaad is ’n waardevolle bron van bewyse en vee-eienaars moet weet hoe om die misdaadtoneel en bewyse te hanteer.

Bewysstukke kan die volgende insluit:

  • karkasse
  • voertuie
  • vuurwapens
  • bronne van DNS soos bloed, bloedvlekke, hare, vleis of ander weefsel
  • vingerafdrukke
  • voetspore
  • inbraaktoerusting
  • klere

Die Veediefstaleenheid stel die volgende voor wanneer ’n boer besef dat hy of sy die slagoffer van veediefstal was:

  • Beveilig die misdaadtoneel onmiddellik.
  • Moet niks skuif of van die toneel verwyder nie.
  • Moenie probeer om die misdaad self te ondersoek nie – belangrike bewyse kan só vernietig word.
  • Wanneer vee uit ’n kraal gesteel is, kan die oorblywende vee in die kraal bly totdat die beamptes van die Veediefstaleenheid opdaag en met hul ondersoek begin. Belangrike leidrade soos spore en merke word vernietig sodra die diere die kraal verlaat.
  • Spore wat op die misdaadtoneel gevind word, moet beskerm word teen reën, wind, diere en mense, byvoorbeeld deur hulle met ’n oopgesnyde drom of kartondoos te bedek.
  • Vee-eienaars moet nie die spore volg nie, en werknemers moet ook nie gestuur word om spore te soek en te volg nie. Laat dit eerder oor aan die polisie en hul honde.
  • Geknipte heinings moet nie herstel word voordat draadmonsters geneem is nie.
  • Kettings en slotte wat gesny is, moet ook as bewysstukke bewaar word.
  • Geslagte karkasse moet nie verwyder word voordat vleismonsters geneem en foto’s van die toneel geneem is nie.
  • Indien materiaal op die toneel gevind word wat moontlik aan die dief behoort, moet dit nie aangeraak of verwyder word nie.
  • Onbekende voorwerpe, byvoorbeeld gebreekte ligte of relings van voertuie wat op die misdaadtoneel gevind word, moet nie aangeraak of verskuif word voordat dit aan die ondersoekbeampte getoon is nie.
  • Die forensiese laboratorium van die SAPD kan sulke items vergelyk met getuienis wat op ander misdaadtonele of in besit van misdadigers gevind word.
  • Indien ’n verdagte op heterdaad betrap word en opmerkings aan die eienaar van die gesteelde diere maak wat ’n bekentenis kan wees, noem dit aan die ondersoekbeampte.  Wees versigtig om nie artikel 35 van die  Grondwet (Wet 108 van 1996) en/of artikel 39 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977), wat handel oor arrestasie, te oortree nie.
  •  Moenie die verdagte aanrand nie. Enige onregmatige aanranding stel jou bloot aan moontlike kriminele vervolging.

crime sceneDie ondersoekbeampte sal faktore soos hitte, koue, reën, wind en mense wat die toneel vertrap, in ag neem. As ’n laaste uitweg om ’n bewysstuk te bewaar, kan die polisie bewysstukke na ’n veiliger plek verskuif. Die oorspronklike plek waar dit gevind is, moet dan duidelik aangeteken word.

Soveel moontlik bewysstukke sal deur die polisie ingesamel en verwerk word.  Monsters en bewysstukke sal in forensiese sakkies by die polisiestasie ingeteken word vir gebruik tydens die ondersoek.

Aanmelding van veediefstal

Die tyd wat verloop tussen die ontdekking en aanmelding van veediefstal moet so kort moontlik wees. Dit sal die bevredigende oplossing van ’n veediefstalsaak vergemaklik.

Vee-eienaars moet alle veediefstalinsidente op hul eiendom onverwyld by die plaaslike polisiekantoor aanmeld. Die plaaslike polisiekantoor sal ’n dossier open, dit registreer op die misdaadadministrasiestelsel
(MAS) en ’n MAS-nommer aan die saak toeken. Die MAS-nommer word dan as teksboodskap aan die klaer gestuur. Hierdie nommer moet in alle toekomstige verwysings en navrae gebruik word. Die plaaslike polisiekantoor moet sodra die klagte op die MAS geregistreer is, die bystandveediefstalspeurder
telefonies van die klagte in kennis stel en ook die kontakbesonderhede van die klaer deurgee.

By aankoms op die misdaadtoneel moet die ondersoekbeampte heel eerste die toneel beveilig. Die toneel moet beoordeel word en alle moontlike bewysstukke soos voetspore, vingerafdrukke en bloedmonsters moet bewaar word. Die polisiebeampte neem ’n  verklaring by die klaer af (sien 3.4).

Die ondersoekbeampte sal ’n gedetailleerde beskrywing van die gesteelde vee sowel as die toepaslike identifikasiemerke kragtens die Wet op die Identifikasie van Diere, versoek.

Die vee-eienaar moet dus seker maak dat alle diere gemerk en rekords op datum is. Vee-eienaars kan dikwels nie ’n volledige beskrywing van vermiste vee gee nie, en in sulke gevalle is dit moeilik vir die SAPD om beskrywings van gesteelde vee te sirkuleer.

Neem deeglik kennis van alle detail op die misdaadtoneel en dra dit oor aan die ondersoekbeampte. Moet nie huiwer om alle inligting en waarnemings aan die polisie te verskaf nie.

Die noodsaaklikheid van ’n omvattende veeregister kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hou ’n veeregister op datum en bevestig die getalle gereeld. Dit is ook van toepassing op werknemers se diere. ’n Volledige veeregister dien as ’n bewys aan die landdros dat die vee-eienaar beheer het oor die vee en bewus is van wat op die plaas gebeur.

Gebruik van DNS-tegnologie

Die SAPD en die Dieregenetikalaboratorium van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-instituut in Irene het reeds in 1996 ’n vennootskap gesluit om die uitdaging van veediefstal met behulp van DNS-tegnologie te beveg. Volgens die SAPD is verskeie hofsake suksesvol afgehandel deur DNS te gebruik. In hierdie hofsake, wat meer as 3 000 bewysstukke ingesluit het, is resultate van DNS-ontleding as bewyse gebruik. Ongeveer 95% van hierdie gevalle is opgelos en die verdagtes vervolg.

dnaDNS-tegnologie kan as ’n belangrike forensiese instrument gebruik word om veediefstal te bekamp en word ’n steeds belangriker komponent van die kriminele regstelsel. DNS-gebaseerde tegnologie word algemeen gebruik vir die bepaling van identiteit, eienaarskap, ouerskap, naspeurbaarheid en die spesie-oorsprong van diereprodukte soos weefsel, bloed en vel.

Afgesien van ’n identiese tweeling of klone, is geen twee diere geneties dieselfde nie. Dit beteken dat die DNS van ’n dier ’n vingerafdruk of unieke identifikasie is. Slegs klein hoeveelhede DNS is nodig om die
vingerafdruk van ’n dier te bevestig. Maar hoe help DNS-tegnologie om veediefstal te bekamp?

Haarmonsters (’n bron van DNS) word van individuele diere versamel en in die laboratorium gestoor as ’n verwysingsmonster.  As ’n dier op ’n misdaadtoneel beseer of geslag is, of ’n stuk vleis van ’n gesteelde dier in besit van ’n verdagte gevind word, word ’n weefselmonster geneem en in die laboratorium met die verwysingsmonsters vergelyk.

Indien die DNS-vingerafdruk van die verwysingsmonster ooreenstem met ’n monster van die misdaadtoneel, kan die verdagte aan die misdaadtoneel of die misdaad self verbind word en die bewyse kan gebruik word om die oortreder agter tralies te sit.

Selfs al is daar geen verwysingsmonster beskikbaar nie, is skuldigbevinding steeds moontlik deur DNS van bloed, bloedvlekke, vleis of ander weefsel wat op die misdaadtoneel gevind is, te vergelyk met bloed op die verdagte se klere, gereedskap wat hy gebruik het of vleis wat in sy besit gevind word.

Die sukses van die forensiese DNS-diens word bepaal deur die korrekte insameling van monsters by ’n misdaadtoneel, die verwerking en ontleding daarvan in die laboratorium en die rapportering van bevindings. Om te verseker dat hierdie proses wel korrek verloop, bied die LNR deurlopend opleiding
aan SAPD-personeel. Die opleiding fokus op aspekte soos DNS-monsterversameling, bewaring, dokumentasie en versending van bewysstukke na die laboratorium.

Klaer se verklaring

Die eerste polisiebeampte op die toneel moet ’n toneelverklaring opstel. Die klaer se verklaring moet dadelik geneem word, behalwe as die klaer beseer is en mediese behandeling moet kry. Die polisie kan steeds ’n dossier open, selfs as die klaer nie dadelik ’n verklaring kan aflê nie.

As persone in hegtenis geneem is, moet arrestasieverklarings geneem word en die ooggetuies se  verklarings moet ook dadelik geneem word.

  • Alle persone het die reg om hul verklaring in hul eie taal af te lê en om dit self te skryf.
  • Polisiebeamptes weet egter watter  belangrike inligting nodig is in die verklaring en die skryf daarvan word gewoonlik aan hulle oorgelaat.
  • Die verklaring moet die volgende bevat:  wat, waar, wanneer, hoekom en wie.
  • As iemand voel dat die beampte se verklaring van ’n swak gehalte is, mag hulle weier om dit te teken en eerder vra dat ’n speurder of ’n beampte met ’n hoër rang die verklaring afneem.
  • Persone wat verklarings afgelê het, moet alles lees wat neergeskryf is en saamstem met die inhoud van die verklaring voor dit geteken word.
  • Probeer om nie meer as een verklaring af te lê nie. Indien die twee verklarings sou verskil, stel so ’n persoon hom bloot aan ’n klag van meineed.

Voorbeeld van verklaring bl 1 HIER

Voorbeeld van verklaring bl 2 HIER

Addisionele klagtes van dieremishandeling

In baie veediefstalinsidente is daar gevalle waar beeste of skape op uiters wrede maniere doodgemaak word. Dit sluit in koeie wat lewendig geslag word en lammers wat doodgeslaan word deur hulle koppe teen rotse of telefoonpale te breek.

Slagoffers van sulke misdade kan, afgesien van aanklagte van diefstal, ook ’n bykomende klag van dieremishandeling lê kragtens die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962).

Die wet stipuleer dat dit ’n misdryf is om:

  • diere te verwaarloos, vertoorn of vermink
  • diere in vuil of parasitiese toestande aan te hou
  • nie veeartshulp aan te bied of te verkry indien nodig nie
  • ’n dier nie uit te sit as dit onnodig ly nie
  • enige dier op te sluit of te kniehalter wat veroorsaak dat die dier ly
  • ’n dier in toestande aan te hou sonder die nodige beskutting, lig of ventilasie of dit aan oormatige hitte, koue, son, reën en stof bloot te stel of sonder die nodige voorsiening van voedsel of water
  • ’n dier uit te lok, te terg of aan te hits om ’n ander aan te val of om ’n dier aan te hou met die doel om te baklei.

Enige persoon wat skuldig is aan só ’n misdryf, kan by skuldigbevinding ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens 12 maande opgelê word, of langer as sodanige gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete opgelê word.

Slagoffershandves

Die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad in Suid-Afrika (Slagoffershandves) streef na geregtigheid vir almal. Die Slagoffershandves staan in die gees van die Grondwet en die Verenigde Nasies se Deklarasie van Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagoffers van Misdaad en Magsmisbruik, 1985 (GA/RES/40/34).

Sedert 1994, en in ooreenstemming met die kweek van ’n menseregtekultuur, het die fokus geleidelik verskuif van ’n regstelsel waarin slagoffer en oortreder as teenstanders te staan kom en die doelwit
vergelding is na ’n stelsel van herstellende geregtigheid. Die kern van die konsep van herstellende geregtigheid is die erkenning van misdaad nie as bloot ’n oortreding teen die staat nie, maar ook as ’n onregmatige daad of onreg wat ’n ander persoon aangedoen is.

Die uiteindelike doelwit is om slagoffers te bemagtig deur in hulle behoeftes te voorsien, hetsy stoflik of emosioneel. Die Slagoffershandves en die minimumstandaarde verduidelik en konsolideer die regte en
verpligtinge met betrekking tot dienste van toepassing op slagoffers en oorlewendes van misdaad in Suid-Afrika. Dit is in ooreenstemming met die bepalings van artikel 234 van die Grondwet.

As ’n misdaad gepleeg is en by die SAPD aangemeld word, stel dit die strafregstelsel in werking. Die SAPD moet misdade ondersoek en oortreders aan die man bring. Sodra ’n aanklag aanhangig gemaak is, open die polisie ’n dossier en ondersoek die aanklag. As die polisie nie seker is of vervolging ingestel moet word nie, sal ’n formele aanklag nie onmiddellik ingebring word nie. Die polisie sal so ’n saak eers ondersoek en die dossier aan die staatsaanklaer voorlê vir ’n beslissing.

Vanaf die oomblik dat ’n misdaad gepleeg en aangemeld is, is dit belangrik dat al die beskikbare bewyse versamel en beskerm word op so ’n wyse dat dit sal help met die ondersoek van die saak en die
daaropvolgende verhoor. Beserings wat die misdaadslagoffer opgedoen het of skade wat hy of sy gely het, kan die getuienis teen die beskuldigde staaf. ’n Mediese verslag moet opgestel en voorgelê word, waar van toepassing.

Wanneer iemand aangekla word, word die saak na die hof verwys, waar die staatsaanklaer verantwoordelik vir die vervolging in die saak aanvaar.

 

Doel van minimumstandaarde

Die minimumstandaarde vir dienste vir slagoffers van misdaad is ’n inligtingsdokument wat slagoffers se regte soos vervat in die Slagoffershandves verder verduidelik.  Dit verskaf inligting oor die regering se verbintenis tot beter dienslewering aan slagoffers van misdaad. Die standaarde skets nie net basiese regte en beginsels nie, maar verstrek ook gedetailleerde inligting om misdaadslagoffers in staat te stel om
hulle regte uit te oefen en om diensverskaffers te help om daardie regte te handhaaf.

Die minimumstandaarde help om almal wat by die strafregstelsel betrokke is, aanspreeklik te hou om te verseker dat slagoffers gepaste bystand en dienste ontvang.

Wanneer iemand ’n misdaad aanmeld en getuienis in die hof lewer, speel dit ’n deurslaggewende rol om die strafregstelsel beter op die behoeftes van die samelewing te laat reageer en om te verseker dat oortreders aan die man gebring word. Op sy beurt moet die strafregstelsel vinnig en hoflik reageer,
klaers met respek vir hulle waardigheid en privaatheid behandel en in hulle behoeftes voorsien. Die minimumstandaarde is ’n poging om te verseker dat dit gebeur, deur mense te bemagtig en voldoende inligting te verskaf sodat mense hulle regte kan uitoefen.

’n Misdaadslagoffer kan dus verwag dat die rolspelers in die strafregstelsel sal verseker dat die regte wat in die Slagoffershandves uiteengesit is, afgedwing word.

Minimumstandaarde

Die minimumstandaarde vir dienste vir slagoffers van misdaad sluit in:

  • die reg om met billikheid en met respek vir die slagoffer se waardigheid en privaatheid behandel te word
  • die reg om inligting aan te bied
  • die reg om inligting te ontvang
  • die reg op beskerming
  • die reg op bystand
  • die reg op vergoeding
  • die reg op herstel.

Regte as ’n slagoffer van misdaad

Misdaadslagoffers se regte, soos vervat in die Grondwet en relevante wetgewing, moet soos volg in hulle kontak met die strafregstelsel gehandhaaf word:

Die reg om met billikheid en met respek vir jou waardigheid en privaatheid behandel te word
  • Jy het die reg om flink en hoflik bedien te word, met respek vir jou waardigheid en privaatheid, deur alle lede van enige departement, instelling, agentskap of organisasie wat regstreeks of onregstreeks ’n diens aan jou lewer (hierna diensverskaffers genoem).
  • Die polisie, tydens ondersoeke, die aanklaers en hofamptenare tydens voorbereiding vir en gedurende die verhoor asook alle ander diensverskaffers, moet jou enige onnodige ongerief spaar deur onder meer onderhoude met jou in jou voorkeurtaal en, indien nodig, privaat te voer.
  • Hierdie maatreëls sal verhoed dat jy aan sekondêre viktimisasie blootgestel word.
Die reg om inligting aan te bied
  • Jy het die reg om inligting tydens die kriminele ondersoek en verhoor aan te bied.
  • Die polisie, aanklaer en korrektiewediensteamptenaar moet verseker dat enigiets wat jy tot die ondersoek, vervolging en paroolverhoor wil bydra, aangehoor en oorweeg word in die besluit of daar met die ondersoek voortgegaan moet word, of tydens die verloop van die vervolging of paroolraadverhoor.
  • Hierdie reg beteken dat jy kan deelneem (indien nodig en waar moontlik) aan strafregverrigtinge deur die borgtogverhoor, die verhoor, vonnisoplegging en/of paroolraadverhoor by te woon.
  • Dit beteken dat jy die geleentheid sal hê om nóg ’n verklaring by die polisie af te lê as jy meen dat jou eerste verklaring onvolledig was; jy mag ook, waar toepaslik, ’n verklaring voor die hof aflê of tydens vonnisverrigtinge getuig om die hof se aandag op die erns van die misdaad te vestig.
  • Jy mag ook ’n skriftelike aansoek tot die voorsitter van die paroolraad rig om die paroolverhoor by te woon en skriftelike vertoë voor te lê.
Die reg om inligting te ontvang
  • hand cuffedJy het die reg om ingelig te word oor jou regte en hoe om dit uit te oefen.
  • As deel van hierdie reg mag jy vra dat enigiets wat jy nie verstaan nie, in jou eie taal aan jou verduidelik word.
  • Jy het die reg om inligting te ontvang en ingelig te word oor alle  relevante dienste wat diensverskaffers aan jou kan lewer.
  • Jy sal oor jou rol in die saak ingelig word en jy mag ook weet ongeveer hoe lank die saak sal duur. Jy mag inligting aanvra oor hofdatums,  getuiefooie en die getuiebeskermingsprogram.
  • Jy mag weet hoe die saak vorder, of die oortreder in hegtenis geneem of aangekla is, of borgtog toegestaan is, en of die oortreder skuldig bevind of gevonnis is.
  • Jy mag redes aanvra vir ’n besluit wat in jou saak geneem is oor vervolging al dan nie.
  • Jy is geregtig om dokumente te ontvang waartoe jy regtens toegang mag hê.
  • Jy mag versoek dat jy in kennis gestel word van verrigtinge wat jy mag bywoon.
  • Jy mag die aanklaer versoek om jou werkgewer in kennis te stel van verrigtinge wat jy in werkstyd moet bywoon.
Die reg op beskerming
  • Jy het die reg om vry te wees van intimidasie, teistering, vrees, bemoeienis, omkopery, korrupsie en mishandeling. As jy ’n getuie is, moet jy enige sodanige bedreiging by die polisie of senior aanklaer aanmeld.
  • Mits jy aan sekere vereistes voldoen, sal die polisie aansoek doen dat jy in ’n  getuiebeskermings-program geplaas word.
  • As dié aansoek slaag, sal jy in ’n getuiebeskermingsprogram opgeneem word waar jy sover moontlik beskerm sal word teen alle vorms van onbehoorlike beïnvloeding, teistering of intimidasie.
  • Dit sal jou veiligheid as getuie en die beskikbaarheid van jou getuienis verseker, en verhoed dat jy jou getuienis weerhou as gevolg van onbehoorlike beïnvloeding.
  • Hierdie reg beteken ook dat die hof in sekere omstandighede die publikasie van enige inligting (waaronder jou identiteit) mag verbied, of dat die hof gelas dat die verhoor agter geslote deure (in camera) plaasvind.
  • Jy mag Korrektiewe Dienste versoek om jou te verwittig as die oortreder ontsnap het of oorgeplaas is.
Die reg op bystand
  • Jy het die reg om bystand aan te vra en, waar toepaslik, toegang te kry tot beskikbare maatskaplike, gesondheids- en beradingsdienste asook regshulp wat jou behoeftes in aanmerking neem.
  • Die polisie moet jou bystaan deur polisieprosedures te verduidelik, jou oor jou regte in te lig en jou na ander relevante diensverskaffers te verwys.
  • Die kantoorbestuurder of kantoorhoof by die hof sal vir die dienste van ’n tolk reël.
  • Die aanklaer sal verseker dat spesiale maatreëls met betrekking tot seksuele oortredings, gesinsgeweld en kinderondersteuning of onderhoudsake getref word en dat sulke sake, indien moontlik, in gespesialiseerde howe verhoor word.
  • As jy spesiale behoeftes het, moet alle diensverskaffers, binne hulle lynfunksie, alle redelike stappe doen om jou tegemoet te kom en te verseker dat jy op ’n sensitiewe wyse behandel word.

Onbevredigende ondersoek

Al die departemente, instellings en agentskappe wat by die saak betrokke is, poog om ’n hoë standaard van diens te verskaf, maar soms kan dinge skeefloop. As dit gebeur, wil die departemente, instellings en
agentskappe weet wat gebeur het.

Sekere stappe kan gevolg word indien jy tydens die ondersoek na die veediefstalinsident ontevrede is met die SAPD oor

  • die manier waarop jy behandel is
  • die inligting wat jy ontvang het
  • die besluite wat geneem is.

Dien ’n klagte oor ’n polisiebeampte of ’n polisiediensbeleid, -praktyk of -prosedure in deur aan die stasiekommissaris van die betrokke polisiestasie te skryf.

As die klagte handel oor eiendom wat verlore geraak het of beskadig is terwyl dit in die polisie se besit was, kan op vergoeding aanspraak gemaak word. Rig enige navrae aan die stasiekommissaris.

Indien die probleem nie bevredigend opgelos is nie, nader ook die areakommissaris van die betrokke polisiestasie met besonderhede van die eis. As die klagte steeds nie bevredigend hanteer word nie, skakel die Kantoor van die Openbare Beskermer.

As die klagte dan nog nie bevredigend hanteer is nie, nader die Onafhanklike Klagtedirektoraat , maar let daarop dat dié kantoor net genader kan word oor klagtes rakende gevalle van beweerde misdadige optrede of wangedrag deur lede van die Metropolisiediens en lede van die SAPD wat versuim het om hulle pligte te verrig.