Identifikasie van diere

’n Wettige, permanente merk is die eerste verdedigingslinie teen veediefstal. In Suid Afrika maak wetgewing voorsiening vir ’n doeltreffende diere-identifikasiestelsel.
Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002), maak die merk van vee verpligtend.
Dit help die bedryf en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om veediefstal te bestry en om gesteelde vee makliker te kan terugvind. Dit blyk egter dat die meeste persone en instansies wat in vee handel dryf, nie die bepalings van die betrokke wetgewing nakom nie en dus nie voldoen aan die basiese
vereistes om veediefstal te bekamp nie.
Baie hofsake oor veediefstal moet geskrap word weens geskille oor die positiewe identifikasie van gesteelde vee en omdat eienaarskap nie bewys kan word nie. As ’n dier met ’n geregistreerde merk of tatoeëermerk gemerk is, kan sulke geskille vermy word. Warmysterbrandmerke vir beeste en tatoeëermerke vir kleinvee bly die mees kostedoeltreffende maniere om hierdie groepe diere te merk.
Die Wet op die Identifikasie van Diere vervang die Wet op Veebrandmerke (Wet 87 van 1962). Die nuwe wet bestuur die nasionale register vir diere-identifikasiemerke, wat dien as ’n versterkte verdedigingslinie teen veediefstal, die identifisering van e i e n d o m vergemaklik en opspoorbaarheid bevorder.

Die diere-identifikasiestelsel

Die diere-identifikasiestelsel (AIS) is die nasionale register van diere-identifikasiemerke in Suid-Afrika. In hierdie stadium het slegs die SAPD toegang tot die stelsel.
AIS is ’n uiters gebruikersvriendelike stelsel wat deur enige beampte gebruik kan word na ’n kort opleidingstydperk.

Toepassing van die wet (artikel 2)

Hierdie wet is van toepassing –
(a) ten opsigte van die diere wat deur die minister by kennisgewing in die Staatskoerant
verklaar is; en
(b) op die hele nasionale grondgebied van die Republiek van Suid-Afrika.

Die wet is landswyd van toepassing en dit is verpligtend om alle beeste, skape, bokke en varke te merk. Daar is heelwat voordele van wettige merke:

  • fisiese afskrikmiddel – veediewe is meer geneig om ongemerkte diere te steel
  • positiewe identifikasie
  • positiewe bewys van eienaarskap
  • doeltreffender polisiëring
  • hoër herwinningspersentasie
  • maak opsporing moontlik.

Wat is ’n identifikasiemerk? (artikel 4)

Die minister moet identifikasiemerke voorskryf ten opsigte van elke groep diere waaraan merke ingevolge artikel 5 toegeken kan word.

’n Identifikasiemerk is enige geregistreerde merk wat op ’n dier aangebring word vir watter doel ook al en wat deur die minister voorgeskryf word.

Die volgende merke is uitsonderings:

  • ’n merk aan ’n hoef of horing
  • ’n verfmerk
  • ’n knip, klinknael of plaatjie wat aan die oor aangebring is
  • ’n keep of gat.

Hoe om ’n identifikasiemerk te registreer (artikel 5)

’n Aansoek om registrasie van ’n identifikasiemerk moet by die registrateur gedoen word op die voorgeskrewe wyse en moet vergesel word van die voorgeskrewe geld. Indien die aansoek voldoen aan die vereistes van hierdie wet moet die registrateur –

(a) ’n identifikasiemerk aan die applikant toeken
(b) die identifikasiemerk in die applikant se naam registreer, en
(c) aan die applikant ’n registrasiesertifikaat van daardie identifikasiemerk uitreik.

Alle eienaars moet aansoek doen om ’n geregistreerde identifikasiemerk.

  • Vorms is verkrygbaar vanaf voorligtings kantore, landdroskantore, veediefstaleenhede van die SAPD of by die registrateur van identifikasiemerke.
  • ’n Eenmalige registrasiefooi is betaalbaar – koop inkomsteseëls by die Poskantoor om te betaal vir die registrasie en plak dit aan die onderkant van die vorm waar aangedui.

Adresseer die koevert aan:
Die Registrateur:
Diere-identifikasie,
Privaatsak X138, Pretoria, 0001.

Alle identifikasiemerke moet geregistreer word.

  • Die registrasie word op die nasionale register van diere-identifikasiemerke geplaas.
  • Dit kan tot twee weke duur om ’n identifikasiemerk te registreer.

Oordrag van identifikasiemerk (artikel 9)

’n Eienaar van ’n dier kan op die voorgeskrewe wyse by die registrateur aansoek doen om die oordrag van die registrasie van ’n identifikasiemerk vanaf die naam van enige ander persoon na sy of haar naam.

’n Diere-identifikasiemerk kan van een veeeienaar aan ’n ander oorgedra word. Om dit te doen, moet die nuwe eienaar aansoek doen om die oordrag van die betrokke diere-identifikasiemerk by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
In die geval van die dood van die wettige eienaar kan die identifikasiemerk oorgedra word as die eksekuteur van die boedel toestemming gee vir die oordrag. As daar nie ’n eksekuteur is nie, kan die nuwe eienaar ’n kopie van die doodsertifikaat en ’n magtigingsbrief uitgereik deur die hooggeregshof verskaf wat verklaar dat die nuwe eienaar wel die wettige eienaar van die diere is.
Volg dan dieselfde prosedure soos vir die registrasie van ’n diere-identifikasiemerk.

Pligte van eienaars (artikel 7)

  • Alle eienaars van beeste, skape, bokke en varke moet ’n identifikasiemerk by die registrateur
    van diere-identifikasie registreer.
  • Elke eienaar moet sy/haar diere op die voorgeskrewe metode merk.
  • Alle beeste, skape, bokke en varke waarvan die identifikasiemerk onduidelik of onsigbaar geword het, moet ooreenkomstig wetlike voorskrifte weer geïdentifiseer word.
  • Enige eienaar van ’n dier met ’n identifikasiemerk wat die dier binne 14 dae nadat hy of sy die eienaar geword het, wil verkoop, ruil of weggee, moet die nuwe eienaar van ’n identifikasiedokument voorsien.

Dit beteken dat die dier binne 14 dae weggemaak kan word sonder dat dit met die nuwe eienaar se merk
gemerk is, omdat dit reeds die vorige eienaar se merk op het en ’n identifikasiedokument uitgereik is.

’n Eienaar wat ’n dier na 14 dae nadat hy die eienaar van so ’n dier geword het, wil verkoop, ruil of weggee, moet sy eie merk op die dier aanbring voordat hy daarvan ontslae raak. Die eienaar moet ook die
nuwe eienaar van ’n identifikasiedokument voorsien.  Die nuwe eienaar moet die identifikasiedokument vir ’n periode van een jaar hou.  Dit beteken dat daar nie na 14 dae van só ’n dier ontslae geraak kan word sonder dat die nuwe eienaar se identifikasiemerk op die dier aangebring is en ’n identifikasiedokument uitgereik is nie.

Wetlike implikasies

Die merk van geregistreerde (stoetdiere [artikel 15(2)]

Paragrawe (a), (c) en (e) van subartikel (1) is nie van toepassing nie ten opsigte van –
(a) die merk van diere in ooreenstemming met die reël of bywette van ’n dieretelersgenootskap of registrerende owerheid soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet 62 van 1998), of
(b) die merk deur die teler van ’n dier wat geregistreer of aangeteken is, na gelang van die geval, by die
Suid-Afrikaanse Stamboek-en-Veeverbeteringsvereniging.

Geregistreerde diere word met merke gemerk wat deur die betrokke telersgenootskap toegeken is.

  • Die telersgenootskap sal die merkmetode voorskryf (brandmerk of tatoeëring).
  • Registrasiesertifikate wat deur die telersgenootskap uitgereik is, moet geregistreerde diere vergesel wat op openbare veilings verkoop word.

Alternatiewe identifikasiemetodes [artikel 8(5)]

’n Eienaar kan op die voorgeskrewe wyse aansoek doen om ’n alternatiewe identifikasiemetode.  Die registrateur kan alternatiewe identifikasiemetodes by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

Dit is nou moontlik om by die registrateur aansoek te doen vir alternatiewe metodes om diere te identifiseer. Vee-eienaars moet egter kennis neem dat dit nie van toepassing sal wees op individuele eienaars nie. Slegs aansoeke vir die merk van sekere groepe diere of spesies sal oorweeg word.
Indien so ’n versoek toegestaan word, sal dit onderhewig wees aan streng vereistes om die werk van die inspekteur en die SAPD te vergemaklik. Voorwaardes wat in so ’n geval in werking tree, sal insluit die aanbring van ’n enkele merk (brand- of tatoeëermerk) wat aandui dat die diere met mikroskyfies gemerk is.
Dit sal ook ’n vereiste wees dat almal wat die metode gebruik ten alle tye ’n skandeerder/ leser besit.

Onwettige merk van diere (artikel 15)

Geen persoon mag ’n dier merk met ’n:

  •  merk wat nie geregistreer is nie
  •  geregistreerde identifikasiemerk sonder die magtiging van die eienaar van die merk nie
  • geregistreerde identifikasiemerk anders as voorgeskryf nie
  • merk wat geregistreer is in die naam van ’n ander persoon wat nie die dier se eienaar is nie
  • merk wat nie ’n voorgeskrewe merk is vir die groep waaraan die diere behoort nie.

Oortredings (artikel 16)

Enige persoon wat een of meer van die volgende doen, begaan ’n oortreding:

  • ’n merkoperateur wat nie ’n register hou nie
  • enigeen wat enige diere in sy/haar besit het wat nie in ooreenstemming met die toelaatbare voorsienings van die wet gemerk is nie of anders gemerk is
  • enigeen wat die identifikasiemerk op ’n dier verander, beskadig of uitwis
  • enigeen wat ’n dier verkoop waarvan die identifikasiemerk verander, beskadig of gekanselleer is
  • enigeen wat ’n dier verkoop waarvan die oor sonder enige wettige rede afgesny is.

Die vonnis vir hierdie oortredings is ’n boete of gevangenisstraf vir ’n periode van hoogstens ses maande,
of beide die boete en gevangenisstraf.

Merkoperateurs (artikel 11)

Merk 1Enige persoon wat diere, behalwe sy of haar eie diere, vir finansiële gewin wil merk, moet op die voorgeskrewe wyse by die registrateur om registrasie as ’n merkoperateur aansoek doen en die
voorgeskrewe geld betaal.
Indien die applikant aan die voorgeskrewe vereistes voldoen, moet die registrateur hom of haar as ’n merk-operateur registreer.
’n Merkoperateur moet ’n register van diere wat deur hom of haar gemerk is op die voorgeskrewe wyse byhou.
Die registrateur moet ’n register van merkoperateurs op die voorgeskrewe wyse byhou.

Hoe om te registreer:

  • voltooi ’n merkoperateurskursus
  • ’n aansoekvorm wat van die kursusaanbieder verkrygbaar is, moet ingevul word.
  • ’n aansoekfooi is betaalbaar
  • betaling kan by wyse van ’n tjek of posorder geskied
  • adresseer die koevert aan:

Die Registrateur: Diere-identifikasie
Privaatsak X138
Pretoria
0001

Merkoperateurskursusse

Die registrateur sal die aansoeker inlig waar om die voorgeskrewe kursus by te woon. Die kursus sal die volgende insluit:

  • die teorie en tegniek van warmbrandmerking
  • die teorie en tegniek van vriesbrandmerking
  • die teorie en tegniek van tatoeëring
  • die teorie en tegniek van beteueling en merk van diere
  • die wetgewing rakende die welstand van diere.

Register van merkoperateursrekords

Die volgende inligting moet in die merkoperateur se register verskyn:

  • naam en adres van eienaar wie se diere gemerk is
  • datum waarop die diere gemerk is
  • tipe of spesifieke ras gemerk
  • getal diere gemerk
  • identifikasiemetode
  • datum waarop die eienaar se identifikasiemerk geregistreer is
  • die eienaar se geregistreerde identifikasiemerk.