Paroolrade
‘n Slagoffer van veediefstal het die reg om teenwoordig te wees by die paroolraadsitting wanneer die moontlike vrylating van ‘n oortreder oorweeg word.
Die Departement van Korrektiewe Dienste het prosedures ontwikkel om die betrokkenheid van slagoffers by die paroolraadsitting te vergemaklik en aan te moedig wanneer die moontlike vrylating van oortreders oorweeg word.
‘n Slagoffer mag óf ‘n paroolraadsitting bywoon wanneer die moontlike plasing van ’n oortreder op parool of onder korrektiewe toesig oorweeg word óf versoek dat die paroolraad ‘n geskrewe vertoë oorweeg. Die raad mag bandopnames en ander vorms van vertoë oorweeg.
‘n Slagoffer mag ook versoek om ingelig te word oor die ontwikkelingsprogramme wat die oortreder ondergaan het of steeds ondergaan om sy of haar gedrag te verbeter. So ‘n versoek mag slegs toegestaan word as die oortreder geskrewe toestemming in hierdie verband gegee het.
Indien slagoffers betrokke wil raak by die paroolraadsitting, moet die betrokke paroolraad skriftelik ingelig word. Die slagoffer se versoek sal aangeteken word en hy of sy sal ingelig word aangaande die
proses en enige besluit van die paroolraad om die oortreder vry te laat. Hy of sy sal ook ingelig word indien die oortreder ontvlug, sterf, oorgeplaas word of as parool teruggetrek word na vrylating.
‘n Slagoffer moet die volgende inligting skriftelik aan die betrokke paroolraad verskaf:
- die naam van die oortreder
- die oortreding begaan
- die saaknommer
- die datum en naam van die hof waar die oortreder gevonnis is
- die volle naam en ID-nommer van die slagoffer en sy of haar posadres.
Slagoffers moet die betrokke paroolraad inlig indien hulle adres verander het. Alle redelike stappe word gedoen om te verseker dat die kontakbesonderhede van slagoffers vertroulik gehanteer word en dat dit nie aan oortreders bekend gemaak word nie.
In die normale verloop van sake en om te voldoen aan die beginsel van audi alterem partem (om die ander persoon se standpunt te hoor), sal die oortreder teenwoordig wees wanneer die slagoffer se vertoë gerig word. Nietemin, indien die slagoffer ‘n persoonlike vertoë rig tydens die paroolraadsitting, sal die voorsitter alle moontlike stappe doen om te verseker dat die slagoffer beskerm word teen die oortreder en dat geen viktimisering tydens die sitting plaasvind nie.
In sekere omstandighede, soos wanneer kinders of ‘n weerlose slagoffer betrokke is, sal reëlings getref word sodat dit nie nodig is om die oortreder te sien nie. Indien slagoffers enige bekommernis in hierdie
verband het, moet hulle hierdie saak met die paroolraad bespreek, wat hul behoeftes, vrese en bekommernisse sal aanspreek.
Slagoffers mag deur enige persoon van hul keuse vergesel word om morele ondersteuning te verskaf. In die geval van ’n veediefstalsaak kan die slagoffer deur persone binne georganiseerde landbou ondersteun word. Die paroolraad moet egter ingelig word oor die identiteit van só ’n ondersteuner, om reëlings te tref met die sekuriteitspersoneel om toegang tot die korrektiewe sentrum te vergemaklik.
Wanneer die moontlike vrylating van ’n oortreder op parool oorweeg word, word ‘n verskeidenheid faktore in berekening gebring, wat onder meer insluit:
- die oortreder se reaksie op ontwikkelings en behandelingsprogramme wat verband hou met rehabilitasie
- die bestaan en kwaliteit van ondersteuningstelsels in die gemeenskap
- die waarskynlikheid van heroortreding
- die risiko wat so ‘n oortreder vir die groter gemeenskap mag inhou, asook die risiko vir die klaer.
Die samevoeging van al hierdie faktore sal die paroolraad lei tot ’n besluit en dit is daarom belangrik dat klaers betrokke raak by die proses. Die vertoë van die slagoffer kan ‘n belangrike rol speel om paroolvoorwaardes te bepaal indien die oortreder op parool of onder korrektiewe toesig uitgeplaas word.
‘n Slagoffer neem egter nie deel aan die besluitnemingproses van die paroolraad nie. As dit tydens die sitting van die paroolraad blyk dat geen versoening tussen slagoffer en oortreder plaasgevind het nie, sal die paroolraad dit oorweeg om ‘n besluit op die vrylating van die oortreder uit te stel met die oog op moontlike mediasie.
Slagoffers wat vertoë gerig het of wat versoek het dat hulle ingelig word oor paroolbesluite, sal skriftelik ingelig word van die besluit van die paroolraad. Diegene wat teenwoordig is tydens die paroolraadsitting
sal tydens die sitting mondelings van die besluit ingelig word.
Indien die slagoffer nie tevrede is met die besluit van die paroolraad nie en van mening is dat die paroolraad gefouteer het, mag hy of sy ‘n skrywe rig aan die nasionale kommissaris of toepaslike area-kommissaris en redes aanvoer vir sy of haar mening. Vertoë sal oorweeg word met al die toepaslike feite en dan sal die slagoffer ingelig word oor die uitslag.
‘n Slagoffer kan die paroolraad skakel by die korrektiewe sentrum naaste aan die hof waar die oortreder gevonnis is. Kontakbesonderhede kan ook verkry word by enige korrektiewe instelling, insluitende gemeenskapskorreksiekantore of in die plaaslike telefoongids. Adresinligting is ook verkrygbaar op die webblad van die Departement van Korrektiewe Dienste by www.dcs.gov.za.
Indien die beskuldigde na vrylating op parool optree op ’n wyse wat daarop dui dat hy of sy ’n risiko vir openbare veiligheid kan inhou, of enige voorwaardes wat aan sy of haar vrylating gekoppel is, oortree, kan hy of sy in hegtenis geneem word om die res van die vonnis in die gevangenis uit te dien.