Skutwet
Skutwette is tans ’n provinsiale aangeleentheid en elke provinsie het sy eie wet. Omdat munisipaliteite regstreeks daardeur geraak word, geld ordonnansies in die verskillende provinsiale en munisipale regulasies.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die Nasionale Skutwetsontwerp op 18 April 2013 vir kommentaar gepubliseer.
Die doel van die beoogde wet is om nasionale norme en standaarde te bepaal vir die bedryf van skutgeriewe en die skut van diere. Die RPO het ’n werkgroep saamgestel om kommentaar op die wetsontwerp te lewer. Die kommentaar is ook aan affiliasies van AgriSA voorsien vir verdere oorweging.
Alle rolspelers se kommentaar is aan die departement voorsien vir oorweging.
Vreemde vee op plaas
Indien ’n grondeienaar vreemde vee op sy plaas vind, is die eienaar van die vee gewoonlik aanspreeklik vir enige skade wat hulle veroorsaak deur daar te wei, selfs as daar geen nalatigheid betrokke is nie. Die eienaar van die vee is aanspreeklik selfs al het die diere toegang verkry deur die nalatigheid van ‘n derde persoon, byvoorbeeld iemand wat die hek na ‘n naburige eiendom oopgelaat het.
Sulke diere mag nie vir langer as 48 uur nadat jy hulle opgemerk het, op jou eiendom bly tensy jy ’n skriftelike kennisgewing aan die dier se eienaar gestuur het of, indien jy nie weet wie die eienaar is nie, die naaste skutmeester in kennis gestel het nie. Jy mag nie die dier verkoop nie. As jy dit doen, kan die eienaar die waarde van die dier van jou verhaal asook die skade wat hy gely het as gevolg van die verkoop. Jy sal ook aan ’n misdryf skuldig wees.
Indien jy diere van buite Suid-Afrika op jou eiendom vind, moet jy die diere isoleer en die staat se veeartsenydienste in kennis stel, wat aan jou sal voorskryf wat om met die diere te doen.
Enigiemand wat ’n dier aan die skutmeester lewer, is geregtig op ’n fooi vir die aanjaag of vervoer van die dier, soos uiteengesit in die provinsiale ordinansies.
Indien een van jou werknemers die dier na die skut neem, stuur ’n nota saam wat die dier beskryf en jou werknemer magtig om dit aan die skutmeester te oorhandig.
Die skutmeester kan die voorgeskrewe vervoerkoste, skutgelde en ander uitgawes om die dier te ent, dip of te behandel, verhaal voordat ’n geskutte dier vrygelaat word.
As ‘n dier nie opgeëis word nie, kan die skutmeester dit per openbare veiling vir kontant verkoop.
Loslopende diere
Groot probleme word ook met loslopende diere ondervind, veral op strate en langs paaie. Die grootste bekommernis is die motorongelukke wat hierdie diere veroorsaak, wat kan lei tot lewensverlies en groot skade aan voertuie. Soms betree hierdie diere ook mense se persele en beskadig plante en selfs voertuie.
Die Veediefstaleenheid mag op hierdie loslopende diere beslag lê en hulle na ’n skut neem. Die eienaars moet ’n bedrag betaal om die diere terug te kry. Nie alle dorpe se munisipaliteite het egter skutkrale nie.
Vee-eienaars moet veewagters aanstel wat te alle tye na hul diere kan kyk. Streng boetes kan aan skuldige eienaars uitgereik word indien die loslopende diere as hul eiendom geïdentifiseer word.