Uitstel van hofsaak
Daar is ’n aantal redes waarom ’n hofsaak uitgestel kan word. Die saak kan uitgestel word vir:
- die beskuldigde om regsverteenwoordiging of regshulp te verkry
- verdere ondersoek
- ’n borgaansoek
- getuies om voor die hof te verskyn
- die regsverteenwoordiger, indien die regsverteenwoordiger dalk op die betrokke hofdatum nie beskikbaar is nie
- ‘n verhoor.
Indien die prokureur vir die verdediging die aangeleentheid wil uitstel, word die aanklaer eers genader om ’n uitsteldatum te reël. Indien die staatsaanklaer nie beswaar het teen die uitstel nie, sal ’n datum onderling gereël word en aan die hof meegedeel word wanneer die saak geroep word.
Indien die aanklaer egter die uitstel weier, kan daar by die hof aansoek gedoen word vir die uitstel. Die prokureur sal dan aan die hof redes moet voorhou waarom uitstel verleen moet word.
Die hof moet gedurende so ’n aansoek die beskuldigde se reg op ’n spoedige verhoor in ag neem. Hierdie aansoek kan ook deur die staat gebring word indien die staat die saak wil uitstel en die verdediging weier.
Indien uitstel verleen word, kan dit ook aangeteken word op die dossier as finale uitstel. Dit beteken dat daar op die volgende hofdatum nie weer aansoek gedoen mag word vir uitstel nie, maar dat ’n verhoordatum dan vasgestel moet word. Indien die saak op die volgende hofdatum steeds nie gereed is vir verhoor nie, mag die verdediging aansoek doen dat die saak voorlopig teruggetrek word totdat die ondersoek voltooi is. Die verdediging mag egter slegs so ’n aansoek bring indien die staat op die vorige geleentheid uitstel versoek het.