Veiligheidswenke

  • Gaan alle heinings en hekke gereeld na en hou hulle in stand om vee te beskerm.
  • Stel ’n opgeleide werknemer aan om die heinings daagliks te patrolleer, wat ook kan verseker dat gate in en onder heinings onmiddellik herstel word. Inspekteer self hierdie herstelwerk.
  • Hou laaibanke in kampe of plekke op die plaas waar daar nie direkte toesighouding is nie, altyd gesluit of sorg dat hulle uit die oog is.
  • Indien jy dit oorweeg om nog ’n plaas te koop, is  dit beter as dit naby die bewoonde plaas is. Onthou – ver van jou goed, naby jou skade.
  • Sorg dat gesteelde vee nie op jou eiendom versteek kan word nie. Veeposte is ’n ideale oornagplek om gesteelde vee weg te steek. Indien onbekende vee by ’n veepos opgemerk word, rapporteer dit
    onmiddellik aan die SAPD.
  • Tel minstens een keer ’n week self jou vee by veeposte.
  • Indien werknemers by veeposte self ook diere besit, is dit goed as die diere meng en saam wei. Dit is ’n goeie voorkomingsmaatreël, veral as jy vermoed dat werknemers betrokke is by voorvalle
    van veediefstal.
  • Wees veral bedag tydens volmaan, naweke en aan die begin of einde van ’n maand, of gedurende tydperke waarvan jy vanuit eie ondervinding weet dat veediefstal (veral vir potslagtings)  plaasvind.
  • Rapporteer onbekende diere tussen jou eie onmiddellik aan die SAPD en jou bure.
  • Meld alle voorvalle van veediefstal op jou eiendom dadelik aan. Hoe langer die vertraging, hoe minder is die waarskynlikheid van suksesvolle vervolging.
  • Dit is belangrik om diere gereeld bymekaar te jaag en te tel. As dit nie moontlik is om vee elke dag te tel nie, probeer om ten minste twee keer ’n week te tel en dan ook op ongereelde dae. Vermy roetine, veral by veeposte, omdat werknemers dalk informante vir veediewe kan wees. Minder vee of tekens wat moontlike veediefstal aandui, moet onmiddellik aangemeld word. Tel persoonlik jou eie vee. Moenie die telwerk of aanmeld van klagtes aan werknemers oorlaat nie.
  • Wanneer nuwe mense aansoek doen om werk, doen navraag by vorige werkgewers om die werklike rede vir diensverlating vas te stel. Rig ook ’n navraag aan die SAPD om vas te stel of die aansoeker ’n kriminele rekord het en indien wel, wat die aard van die rekord is.
  • Lei jou werknemers op om bedag te wees op ongerymdhede. Versoek werkers om versigtig te wees wat hulle voor vreemdelinge oor aktiwiteite op die plaas sê. Inligting kan só in die hande van veediewe beland.
  • Lig die Veediefstaleenheid in wanneer spekulante en kopers van huide en bene of veehandelaars van naburige lande in die area werk. Hou deeglik rekord van alle voornemende veehandelaars sodra hulle met onderhandelinge begin.
  • ’n Deeglike veeregister is absoluut noodsaaklik. Skryf soveel moontlik detail neer en hou die  register self op datum.
  • Moet nie leeglêery op die plaas toelaat of werklose persone toelaat om op die plaas te bly nie.   Vreemdelinge op die plaas of besoekers van werknemers moet eers toestemming van die eienaar
    kry. Implementeer ’n beheerstelsel vir besoekers; teken alle besonderhede van besoekers aan die plaas aan, wie hulle besoek en wanneer hulle vertrek.
  • As jou plaas op die landsgrense is, moenie betrokke raak by onwettige handel met burgers van naburige lande nie, byvoorbeeld deur jou weidingskampe te verhuur. Indien jy nie die regte stappe
    volg nie, kan dit die ideale klimaat vir veediefstal en ander misdade skep.
  • Veediefstalsake word dikwels geskrap weens ’n  gebrek aan belangstelling; sommige klaers wil ook nie die hofverrigtinge bywoon nie. Stel belang in opgeloste sake en woon alle hofsake by.
  • Werk saam met die plaaslike SAPD en Veediefstaleenheid, en nie teen hulle nie. Ondersteun hulle in al hul pogings om jou te help.