Vergoeding

Ingevolge die minimumstandaarde vir dienste vir slagoffers van misdaad het slagoffers ook die reg op vergoeding en die reg op herstel (restitusie).

Die reg op vergoeding
  • Jy het die reg op vergoeding vir verlies van of skade aan eiendom wat gely is as gevolg van misdaad wat teen jou gepleeg is.
  • Jy mag versoek om teenwoordig te wees in die hof op die datum van vonnisoplegging en die aanklaer versoek om by die hof aansoek te doen om ’n vergoedingsbevel ingevolge artikels 297 en 300 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977).
  • “Vergoeding” het betrekking op ’n bedrag geld wat ’n strafhof toeken aan die slagoffer wat verlies of skade aan eiendom gely het, met inbegrip van geld, as gevolg van ’n kriminele daad of versuim deur die aangeklaagde.
  • Die aanklaer sal jou in kennis stel indien ’n vergoedingsbevel toegestaan is, die inhoud daarvan verduidelik en hoe om dit af te dwing. Jy kan ook ’n siviele geding teen die beskuldigde instel as die strafhof nie ’n vergoedingsbevel toestaan nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer die skade nie maklik in terme van geld bepaal kan word nie, soos byvoorbeeld sielkundige letsels of pyn en lyding.
  • Die klerk van die hof sal jou bystaan met die afdwing van ’n vergoedingsbevel wat deur die hof toegestaan is.
Die reg op herstel
  • Jy het die reg op herstel (restitusie) indien jy wederregtelik van jou goedere of eiendom ontneem is, of indien jou goedere of eiendom wederregtelik beskadig is.
  • Restitusie het betrekking op gevalle waar die hof, ná skuldigbevinding, die aangeklaagde gelas om die eiendom of goedere waarvan jy wederregtelik ontneem is aan jou terug te besorg, of om die eiendom of goedere wat wederregtelik beskadig is, te herstel sodat jy weer die posisie kan geniet waarin jy was voordat die misdaad gepleeg is.
  • Die aanklaer sal jou verwittig van wat restitusie behels, en die klerk van die hof sal jou help om hierdie reg uit te oefen.

Vergoedingsbevele

Die Strafproseswet maak voorsiening vir kompensasie. ’n Hoërhof, ’n streekhof of ’n distrikshof kan by skuldigbevinding aan ’n oortreding wat skade aan of verlies van eiendom tot gevolg gehad het, ’n vergoedende bevel aan die klaer of verontregte party toestaan.

Ingevolge die Strafproseswet is daar twee duidelike bepalings van toepassing in die gevalle van vergoeding, naamlik artikel 297 (1)(a)(i)(aa) en artikel 300. Albei bepalings het dieselfde doelwit, naamlik om die slagoffer van die misdaad te vergoed. Die toepassing en die toestaan van die twee bepalings is egter verskillend. In albei gevalle berus dit egter by die diskresie van die hof om te besluit of dit toegestaan sal word.

Strafproseswet, artikel 297

Artikel 297 handel oor vonnisse deur die howe en bepaal dat die hof ’n vonnis voorwaardelik of onvoorwaardelik kan uitstel of opskort, en iemand kan waarsku of berispe. Waar ‘n hof iemand skuldig
bevind aan ‘n ander misdryf as ‘n misdryf ten opsigte waarvan ‘n wet ‘n minimum straf voorskryf, kan die hof na goeddunke die oplegging van vonnis vir ‘n tydperk van hoogstens vyf jaar opskort en die betrokke
persoon op een of meer voorwaardes vrylaat.

Voorwaardes sluit in skadevergoeding of die verskaffing aan die benadeelde persoon van een of ander bepaalde voordeel of diens in plaas van skadeloosstelling weens skade of geldelike verlies.

In die geval van hierdie artikel is die besluit alleenlik binne die diskresie van die hof en is die bepalings van artikel 300 nie ter sprake nie, naamlik dat die slagoffer daarvoor moet aansoek doen. Die bedrae
voorgeskryf in die geval van artikel 300 is nie hier ter sprake nie.

Die beginsels soos hier genoem bly van toepassing, naamlik dat die persoon die nodige fondse moet hê om die vergoeding te kan betaal. Die hoërhowe het lankal reeds gesag gevestig en gesê dié tipe vergoeding
moet oorweeg word waar die persoon ’n opgeskorte vonnis kry en die skuldige in staat sal wees om te werk en die vergoeding af te betaal.

Daar is menige uitsprake met voorbeelde van artikel 297 en dit is belangrik om daarop te let dat die skadevergoeding in die meeste gevalle deur die beskuldigde afbetaal word en dat geen rente ter sprake is nie.

Strafproseswet, artikel 300

’n Aansoek om skadevergoeding kan gebring word wanneer lewende hawe of ander roerende eiendom
wat aan die klaer of verontregte party behoort, gesteel is. So ’n aansoek kan ook gebring word wanneer ’n beskuldigde eiendom (roerend en onroerend) beskadig wat aan die klaer of verontregte party behoort.

Die regswerking van ’n skadevergoedingsbevel is dat die beskuldigde(s) deur die hof gelas word om die klaer of verontregte party te vergoed vir die skade aan of verlies van eiendom wat gely is.

Daar is egter ’n paar aspekte wat spesifieke melding verdien:

  • Die klaer of verontregte party moet oor konkrete (verkieslik skriftelike) bewyse beskik wat die skade aan of verlies van eiendom staaf.
  • Die aansoek moet na skuldigbevinding deur die klaer of verontregte party of deur ’n staatsaanklaer in opdrag van die klaer of verontregte party gebring word.  Hier word aanbeveel dat die klaer of
    verontregte party dit reeds in sy of haar verklaring aan die SAPD meld dat hy of sy wil aansoek doen vir so ’n vergoedende bevel.
  • In die praktyk mag die klaer of verontregte party reeds tydens sy of haar getuienis in die hof getuig dat so ’n bevel verlang word.
  • Dit is ook wys om reeds in die verklaring wat deur die slagoffer afgelê word, te noem dat vergoeding verlang word.
  • Indien dit egter nie dan gedoen is nie, moet die aanklaer die klaer of verontregte party voor vonnisoplegging roep om hieroor te getuig. Andersins kan die aanklaer die hof meedeel dat hy in opdrag van die klaer of verontregte party wil aansoek doen vir so ’n vergoedende bevel.
  • Wanneer ’n beskuldigde egter op die aanklag skuldig pleit, moet die klaer of verontregte party die aanklaer pertinent in kennis stel dat hy of sy voor vonnisoplegging wil getuig oor die toestaan van so ’n vergoedende bevel.
  • Die streekhof kan ’n maksimum bedrag van R1 000 000 as vergoeding toestaan en die distrikshof R300 000, soos voorgeskryf in Staatskoerant no 36111 van 30 Januarie 2013.
  • Die toestaan al dan nie van so ’n bevel is in die diskresie van die hof en is nie onderhewig aan appèl of hersiening nie.  As die hof egter weier om so ’n bevel toe te staan, moet die hof redes daarvoor
    verstrek. Die klaer of verontregte party moet by die besluit van die hof berus, maar het steeds die reg om die skade of verlies sivielregtelik van die beskuldigde te verhaal.
  • Dit is gemeensaak dat die hof nie ’n vergoedingsbevel sal uitreik indien die beskuldigde nie oor enige fondse beskik om dit te betaal nie of nie in die vermoë is om die fondse te genereer nie.