Verskyning in die hof
Om ’n getuie te wees, is dapper. Dit sal die polisie en die vervolging help om te verseker dat geregtigheid geskied. Die polisie sal jou skriftelik inlig om in die hof te verskyn. Die meeste sake word in die landdroshowe gehanteer, maar die ernstiger misdrywe gaan na die streekhof of die hooggeregshof.
Indien jy nie weet waar die verhoor gaan plaasvind nie, doen navraag by die hulp-, inligting- of adviestoonbank om uit te vind in watter hofsaal die verrigtinge gaan plaasvind. Dit is ’n misdryf as jy nie aan die getuiedagvaarding gehoor gee nie en kan lei tot arrestasie.
As jy vrae of inligting het, gee dit vir die aanklaer voordat jy in die hof moet getuig. Op die dag van die verhoor sal daar dalk nie tyd wees nie.
Laat weet die aanklaer wanneer jy by die hof aankom. Jy kan enige tyd vra om jou verklaring weer te lees voor jy moet getuig. Bly by die hof totdat jy getuig het of verskoon word. Moenie die hofgebou sonder
die toestemming van die voorsittende beampte verlaat nie. Die aanklaer sal jou help om toestemming te kry.
’n Getuie mag nie in die hofsaal wees voordat hy of sy geroep word om te getuig nie. As iemand probeer om die saak met jou te bespreek, sê dit vir die ondersoekbeampte of aanklaer. Moenie die saak met enigiemand bespreek nie, behalwe die aanklaer of die mediese dokter of sielkundige wat met die saak help. Nadat jy getuig het, kan jy die res van die verrigtinge bywoon.
Die wet maak vir die volgende voorsiening wanneer jy getuienis lewer:
- In sekere omstandighede kan jy deur middel van geslotebaantelevisie getuig (dit beteken die getuie is nie in die hof in teenwoordigheid van die beskuldigde nie, maar in ’n ander vertrek).
- Indien die getuie jonger as 18 is en as die voorsittende beampte (die landdros of regter) van mening is dat die getuie onredelike geestelike spanning of lyding sal ondervind deur tydens die verhoor te
getuig, kan die getuie deur ’n tussenganger bygestaan word en deur middel van geslotebaantelevisie getuienis lewer. - Verrigtinge kan in sekere omstandighede in camera (agter geslote deure) plaasvind.
Dreigemente en intimidasie
Dit is onwettig om enigiemand te dreig of bang te maak. As dit met jou gebeur, sê dit vir die ondersoekbeampte of die aanklaer. Dit is onwettig as iemand, insluitende familielede, jou dwing of oorreed om nie ’n getuie te wees nie.
Uitgawes
Party uitgawes kan teruggeëis word, byvoorbeeld reiskoste. Vra die aanklaer om ’n vorm te voltooi nadat jy getuig het. In die getuiebank Om vir die eerste keer in die hof te getuig, kan ’n onaangename ervaring
wees en voorbereiding is noodsaaklik. Daar is ’n paar basiese wenke wat jy kan toepas wat jou beter kan toerus vir wanneer jy in die getuiebank moet staan.
- Wanneer jy die eed aflê, kyk na die voorsittende beampte en sê met ’n duidelike stem “so help my God”. In plaas daarvan kan jy ook sê “Ek sal die waarheid, die volle waarheid en niks anders nie as
die waarheid praat”. Dit word ’n plegtige verklaring genoem. - Terwyl jy getuig, moet jy staan, maar jy kan vra om te sit. Praat hard en duidelik.
- Luister mooi na die vraag. Maak seker dat jy dit verstaan, of vra dat dit verduidelik word. Kyk na die persoon wanneer jy antwoord, en beantwoord net die vraag wat gevra word.
- Moenie jou kop skud om ja of nee aan te dui nie. Gebruik woorde om elke vraag te beantwoord.
- As die aanklaer of die prokureur beswaar maak, hou op praat. Wag tot die voorsittende beampte oor die beswaar besluit, en gaan voort wanneer hy so sê.
- As jy ’n vraag nie wil beantwoord nie, moenie vir die voorsittende beampte vra of jy dit moet beantwoord nie. As dit ’n onbehoorlike vraag is, sal die aanklaer beswaar maak. As die aanklaer dit nie doen nie, moet jy die vraag beantwoord, of die hof sal die prokureur stop.
- Moenie in ’n woordewisseling betrokke raak of jou humeur verloor nie. Dit sal nie help nie.
- As jy ’n fout maak, erken dit. Niemand sal dit teen jou hou nie, maar hulle sal dit wel doen as hulle dink jy vertel ’n leuen.
- Ken jou feite, maar moenie jou getuienis opsê asof jy dit gememoriseer het nie, want jy kan dalk deurmekaar raak as die vrae nie in dieselfde volgorde gevra word nie.
- Jy kan sê “ek kan nie onthou nie” as jy van die besonderhede vergeet het.
- As ’n vraag herhaal word, gee dieselfde antwoord as voorheen.
- Die heel belangrikste is dat jy ’n eed of plegtige verklaring afgelê het om die waarheid te praat. As jy betrap word dat jy nie die waarheid praat nie, kan jy vervolg word. Dit maak ook jou getuienis verdag en kan veroorsaak dat ’n misdadiger loskom.
Wat gebeur in die hof?
Die volgende mense sal teenwoordig wees in die hof: voorsittende beampte, assessor, getuie, klerk van die hof, hofordonnans, aanklaer, prokureur, tolk, beskuldigde, publiek.
Borgtog
Wanneer ’n gearresteerde persoon vir die eerste keer voor die hof gebring word, moet die voorsittende
beampte besluit of hy of sy op borgtog vrygelaat kan word. As die slagoffer van die misdaad bang is dat die beskuldigde op borgtog vrygelaat kan word, moet hy of sy redes aan die aanklaer of ondersoekbeampte verstrek. In ‘n veediefstalsaak kan die slagoffer deur persone binne georganiseerde landbou ondersteun word.
As die beskuldigde op borgtog vrygelaat is en op enige manier met die slagoffer in aanraking kom, moet die slagoffer die aanklaer of ondersoekbeampte daarvan in kennis stel.
Tydens die borgaansoek sal die landdros dalk nog getuienis wil aanhoor. Die hof moet besluit of borg toegestaan moet word al dan nie.
Pleit
Aan die begin van ’n verhoor word die beskuldigde deur die aanklaer ingelig waarvan hy of sy aangekla word. Die beskuldigde pleit dan skuldig of onskuldig op die aanklag. As die beskuldigde onskuldig pleit, moet die saak verhoor word.
Die staat se saak
Tydens die verhoor roep die aanklaer die getuie om te getuig. Die aanklaer lei die getuie sodat hy of sy niks belangriks uitlaat nie. ’n Getuie kan enige van die volgende wees:
- die slagoffer
- iemand anders wat weet wat gebeur het of iets oor die misdaad weet
- die polisiebeampte, forensiese deskundige of ander deskundiges.
Kruisondervraging
Nadat elke getuie getuig het, kan die beskuldigde of sy prokureur vrae aan die getuie stel. Die doel is om te toets of die getuie se getuienis korrek is. Dit bied ook aan die beskuldigde of sy prokureur ’n kans om sy of haar weergawe van die gebeure aan die getuie te stel.
Die prokureur van die beskuldigde kan ook vrae aan die getuie stel. Hy of sy beskerm die regte van die beskuldigde.
Die prokureur kan onvriendelik teenoor jou wees en kan moeilike vrae aan jou stel. Probeer kalm bly en vertel die waarheid selfs al moet jy jouself herhaal.
Die beskuldigde se saak
Na die staat se saak kan die beskuldigde of sy prokureur die hof versoek om die beskuldigde te ontslaan. Dit gebeur as hulle voel die aanklaer het nie die saak teen die beskuldigde bewys nie.
Die voorsittende beampte moet besluit om die beskuldigde te ontslaan of met die saak voort te gaan. As die beskuldigde nie ontslaan word nie, gaan die saak aan.
Die prokureur bied getuienis aan en roep getuies, wat die beskuldigde kan insluit. Die verdediging sal probeer om sy kliënt se onskuld te bewys deur leemtes in die staat (aanklaer) se saak te skep. Hulle wil bewys dat die staat se bewerings nie waar is nie of onvoldoende is om die beskuldigde skuldig te bevind.
Die aanklaer kan nou vrae stel aan enige van die verdediging se getuies. Dit sluit die beskuldigde in.
Betoog
In die betoog sal die aanklaer die saak opsom en beredeneer. Hy of sy gee redes hoekom die beskuldigde skuldig bevind moet word. Die beskuldigde of sy prokureur kry ook ’n kans om die hof toe te spreek om
die beskuldigde onskuldig te bevind.
Uitspraak
Die hof besluit of die beskuldigde skuldig is. As die beskuldigde skuldig bevind word, het die aanklaer sy skuld “bo redelike twyfel” bewys. As die beskuldigde onskuldig bevind word, is dit omdat die voorsittende beampte bevind het dat daar nie genoeg bewyse is om die beskuldigde skuldig te bevind nie. As daar twyfel is, moet die hof die beskuldigde ontslaan, wat beteken dat hy of sy vry kan uitstap.
Die vonnis
Wanneer die beskuldigde skuldig bevind is, moet die voorsittende beampte oor ’n gepaste vonnis besluit. Sowel die aanklaer as die verdediging kan in hierdie stadium getuies roep.
Die aanklaer kan praat oor hoe erg die misdaad was en hoe dit die gemeenskap en die slagoffer getref het, en kan selfs getuies roep. Die aanklaer kan ook vra dat die klaer vergoed word as hy of sy skade gely het as gevolg van die misdaad. Die klaer moet die aanklaer vra om vir ’n vergoedingsbevel aansoek te doen voor die beskuldigde gevonnis word.
Indien jy van mening is dat die vonnis te toegeeflik is, kan jy dit met die senior of beheeraanklaer bespreek, wat kan besluit om dit onder die aandag van die betrokke direkteur van Openbare Vervolging te bring. Die direkteur van Openbare Vervolging kan teen die vonnis appelleer. Die appèl moet binne ’n vasgestelde tydperk aangeteken word.
’n Beskuldigde kan appelleer teen ’n skuldigbevinding of die vonnis wat die hof opgelê het. Indien ’n appèl aangeteken word, kan die aanklaer in die oorspronklike saak, of die staatsadvokaat wat die appèl hanteer, versoek word om op hoogte gehou te word van verdere ontwikkelings in die saak, byvoorbeeld die datum wat bepaal is vir die appèlverhoor, of borgtog aan die beskuldigde toegestaan is, en die uitslag van die appèl.
Indien daar besorgdheid bestaan oor die slagoffer se veiligheid of dié van ’n staatsgetuie, sal die polisie, die aanklaer of ’n verteenwoordiger van die getuiebeskermingseenheid die slagoffer kan adviseer oor wat gedoen kan word vir beskerming.