Merkgids vir warmbrand, vriesbrand en tatoeëring
Merk met ’n warm yster
- Gebruik ’n aparte yster vir elke letter van die merk. Dit is makliker, maar nie verpligtend nie.
- Kry alles gereed voordat jy begin merk. Maak seker dat die volgorde van die geregistreerde merk reg is volgens die registrasiesertifikaat. Dit kan eers op ’n stukkie hout getoets word.
- Kry iemand om te help. Die helper moet die dier nader bring en styf vashou. Dit sal makliker wees as daar meer as een helper is.
- Maak die yster goed warm. Wanneer die yster wit word, is dit ’n teken dat dit warm genoeg is. Jy kan die yster op ’n stukkie hout toets om te sien of dit warm genoeg is.
- Maak die diere onbeweeglik met ’n immobiliseerder of kniehalter hulle sodat hulle nie skop nie. Die immobilisasie van die willekeurige spiere weerhou die dier om te beweeg.
- Neem die eerste yster en hou dit vir drie tellings lank teen die dier se vel. Moet nie druk nie. Tel stadig 1, 2, 3. Verwyder die yster. Neem die tweede yster en doen ook dieselfde met die derde. Die merk is nou voltooi. Maak elke yster na gebruik skoon met ’n staalborsel om van die gebrande vel en hare ontslae te raak.
- Gebruik die ysapparaat om die wond te verkoel of spuit koue water op die dier se vel om dit af te koel.
- Jy kan ook wondolie op die wond giet. Moet dit nie met ’n lap afvee nie, en moet nooit mis aan die wond smeer nie.
Merk met ’n vriesbrandyster
Toerusting benodig vir vriesbrand:
- verkoeler – droë ys in etiel-, metiel- of isopropielalkohol en vloeibare stikstof
- geïsoleerde houer vir die verkoelingsmiddel
- stel koper- of hoëgehalte-bronsallooibrandmerkysters
- stel knippers
- 95% etiel- of metielalkohol
- handskoene.
- Kry alles gereed voordat jy begin brandmerk.
- Kry iemand om te help. Die helper moet die dier nader bring en styf vashou. As jy ’n drukgang het, sal die brandmerkproses makliker verloop.
- Maak die diere onbeweeglik met ’n immobiliseerder of kniehalter hulle sodat hulle nie skop nie.
- Skeer die hare af van die deel wat gebrandmerk gaan word.
- Vries die yster deur dit in vloeibare stikstof te plaas of in spiritus wat tot –40 °C afgekoel is deur middel van droë ys.
- Wanneer daar nie meer borrels vorm nie, is die ysters koud genoeg om letters op die vel te brand. Skud die stikstof of spiritus af, anders sal die afvloei ook ’n merk op die vel laat.
- Druk hard vir die volgende blootstellingstydperke:
- diere van ses tot agt maande: 20 tot 25 sekondes
- diere van nege tot 18 maande: 25 tot 30 sekondes
- diere ouer as 18 maande: 30 tot 35 sekondes.
Merk deur middel van tatoeëring
’n Derde identifiseringsmetode is die tatoeëring van diere met behulp van tatoeëertange en ink.
- Kry alles gereed voordat jy begin tatoeëer.
- Kry iemand om jou te help. Die helper moet die dier nader bring en styf vashou.
- Plaas die karakters in die regte volgorde en posisie in die tatoeëertang – volgens die registrasiesertifikaat.
- Maak die ore skoon voordat die ink aangewend word – vuiligheid en olie in die ore sal die ink verhoed om die tatoeëergaatjies te vul wat deur die tatoeëertang gemaak word.
Druk die tatoeëertang totdat gaatjies op die vel verskyn. - Vryf die ink in die gaatjies. Die tatoeëerproses is nou afgehandel.