Regte van slagoffers in die strafregstelsel

Die Slagoffershandves, wat ten doel het om slagoffers te bemagtig deur in hulle behoeftes te voorsien, hetsy stoflik of emosioneel, word in hoofstuk 3 bespreek. In hierdie hoofstuk word daar gefokus op die regte en verpligtinge met betrekking tot dienste aan misdaadslagoffers nadat die saak na die hof verwys is.

As jy die slagoffer van misdaad was, het jy sekere regte wat vervat is in die Slagoffershandves.

Die aanklaer moet:

  • jou billik en met respek behandel om jou waardigheid en privaatheid te beskerm
  • inligting verskaf
  • inligting ontvang
  • jou beskerm
  • jou bystaan.

Jy het die reg om te vra hoekom die aanklaer sekere besluite geneem het. Jy mag ook kla as jy voel jou regte word nie beskerm nie wanneer iemand aangekla word, word die saak na die hof verwys, waar die aanklaer verantwoordelikheid vir die vervolging in die saak aanvaar. Die aanklaer sal die feite van elke saak deeglik oorweeg. Die aanklaer kan een van drie dinge doen:

  • besluit dat daar voldoende bewyse vir vervolging is en met vervolging voortgaan
  • besluit dat meer inligting nodig is om ’n ingeligte besluit te neem en gevolglik die ondersoekbeampte gelas om die saak verder te ondersoek
  • om verskeie redes, soos openbare belang, besluit om die aanklag terug te trek.

Die aanklaer sal die slagoffer se belange in aanmerking neem by enige van hierdie besluite en kan ook besluit om die aanklagte te verander, afhangende van die feite van die saak. Tensy die aanklaer “skuld bo
redelike twyfel” bewys, sal die beskuldigde ontslaan word.

Jy kan ’n spoedige en doeltreffende proses verwag, wat sal verseker dat die saak so gou moontlik voor die hof kom. Jy kan verwag dat die aanklaer alle inligting rakende die borgverrigtinge van die ondersoekbeampte sal aanvra en dit aan die hof voorlê, om te verseker dat die besluit om borg aan die
beskuldigde toe te staan of te weier, geneem word met die slagoffer se beste belange en beskerming in gedagte.

Voordat die aanklaer ’n pleit van skuld aanvaar, sal die aanklaer die slagoffer se belange, asook dié van sy of haar familie, in aanmerking neem.