Wanneer Veediefstal Plaasvind

Wanneer vee-eienaars slagoffers van veediefstal word, kan hulle ‘n aktiewe rol in die voorkoming van verdere diefstalle speel deur die plaaslike SAPD en die Veediefstaleenheid gedurende die ondersoek te ondersteun. Baie veediefstalsake word nie bevredigend opgelos nie weens onvoldoende getuienis en bewyse of onvolledige verklarings. Dit gebeur ook dikwels dat gesteelde vee nie positief uitgeken kan word nie en die betrokke eienaar nie eienaarskap kan bewys nie.