Identifikasie van diere
’n Wettige, permanente merk is die eerste verdedigingslinie teen veediefstal. In Suid Afrika maak wetgewing voorsiening vir ’n doeltreffende diere-identifikasiestelsel.
Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002), maak die merk van vee verpligtend. Dit help die bedryf en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om veediefstal te bestry en om gesteelde vee makliker te kan terugvind. Dit blyk egter dat die meeste persone en instansies wat in vee handel dryf, nie die bepalings van die betrokke wetgewing nakom nie en dus nie voldoen aan die basiese vereistes om veediefstal te bekamp nie.
Baie hofsake oor veediefstal moet geskrap word weens geskille oor die positiewe identifikasie van gesteelde vee en omdat eienaarskap nie bewys kan word nie. As ’n dier met ’n geregistreerde merk of tatoeëermerk gemerk is, kan sulke geskille vermy word.
Warmysterbrandmerke vir beeste en tatoeëermerke vir kleinvee bly die mees kostedoeltreffende maniere om hierdie groepe diere te merk.
Die Wet op die Identifikasie van Diere vervang die Wet op Veebrandmerke (Wet 87 van 1962). Die nuwe wet bestuur die nasionale register vir diere-identifikasiemerke, wat dien as ’n versterkte verdedigingslinie teen veediefstal, die identifisering van e i e n d o m vergemaklik en opspoorbaarheid bevorder.
Die diere-identifikasiestelsel
Die diere-identifikasiestelsel (AIS) is die nasionale register van diere-identifikasiemerke in Suid-Afrika. In hierdie stadium het slegs die SAPD toegang tot die stelsel. AIS is ’n uiters gebruikersvriendelike stelsel wat deur enige beampte gebruik kan word na ’n kort opleidingstydperk.
Toepassing van die wet (artikel 2)
Hierdie wet is van toepassing –
(a) ten opsigte van die diere wat deur die minister by kennisgewing in die Staatskoerant
verklaar is; en
(b) op die hele nasionale grondgebied van die Republiek van Suid-Afrika.
Toepassing van die Wet
(artikel 2)
Die wet is landswyd van toepassing en dit is verpligtend om alle beeste, skape, bokke en varke te merk. Daar is heelwat voordele van wettige merke:
- fisiese afskrikmiddel – veediewe is meer geneig om ongemerkte diere te steel
- positiewe identifikasie
- positiewe bewys van eienaarskap
- doeltreffender polisiëring
- hoër herwinningspersentasie
- maak opsporing moontlik.
Wat is ’n identifikasiemerk?
(artikel 4)
Die minister moet identifikasiemerke voorskryf ten opsigte van elke groep diere waaraan merke ingevolge artikel 5 toegeken kan word.
’n Identifikasiemerk is enige geregistreerde merk wat op ’n dier aangebring word vir watter doel ook al en wat deur die minister voorgeskryf word.
Die volgende merke is uitsonderings:
- ’n merk aan ’n hoef of horing
- ’n verfmerk
- ’n knip, klinknael of plaatjie wat aan die oor aangebring is
- ’n keep of gat.
Hoe om ’n identifikasiemerk te registreer
(artikel 5)
’n Aansoek om registrasie van ’n identifikasiemerk moet by die registrateur gedoen word op die voorgeskrewe wyse en moet vergesel word van die voorgeskrewe geld. Indien die aansoek voldoen aan die vereistes van hierdie wet moet die registrateur –
(a) ’n identifikasiemerk aan die applikant toeken
(b) die identifikasiemerk in die applikant se naam registreer, en
(c) aan die applikant ’n registrasiesertifikaat van daardie identifikasiemerk uitreik.
- Alle eienaars moet aansoek doen om ’n geregistreerde identifikasiemerk.
- Vorms is verkrygbaar vanaf voorligtings kantore, landdroskantore, veediefstaleenhede van die SAPD of by die registrateur van identifikasiemerke.
- ’n Eenmalige registrasiefooi is betaalbaar – koop inkomsteseëls by die Poskantoor om te betaal vir die registrasie en plak dit aan die onderkant van die vorm waar aangedui.
Adresseer die koevert aan:
Die Registrateur: Diere-identifikasie,
Privaatsak X138
Pretoria
0001
Alle identifikasiemerke moet geregistreer word.
- Die registrasie word op die nasionale register van diere-identifikasiemerke geplaas.
- Dit kan tot twee weke duur om ’n identifikasiemerk te registreer.
Oordrag van identifikasiemerk
(artikel 9)
’n Eienaar van ’n dier kan op die voorgeskrewe wyse by die registrateur aansoek doen om die oordrag van die registrasie van ’n identifikasiemerk vanaf die naam van enige ander persoon na sy of haar naam.
’n Diere-identifikasiemerk kan van een veeeienaar aan ’n ander oorgedra word. Om dit te doen, moet die nuwe eienaar aansoek doen om die oordrag van die betrokke diere-identifikasiemerk by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
In die geval van die dood van die wettige eienaar kan die identifikasiemerk oorgedra word as die eksekuteur van die boedel toestemming gee vir die oordrag. As daar nie ’n eksekuteur is nie, kan die nuwe eienaar ’n kopie van die doodsertifikaat en ’n magtigingsbrief uitgereik deur die hooggeregshof verskaf wat verklaar dat die nuwe eienaar wel die wettige eienaar van die diere is.
Volg dan dieselfde prosedure soos vir die registrasie van ’n diere-identifikasiemerk.
'n Eienaar wat 'n dier wil verkoop, ruil of weggee na 14 dae nadat hy die eienaar van sodanige dier geword het, moet die dier met sy of haar eie merk merk voordat dit weggedoen word. Die eienaar moet ook die nuwe eienaar van 'n dokument van identifikasie voorsien. Die nuwe eienaar moet die dokument van identifikasie vir 'n tydperk van een jaar bewaar.