Onwettige jag met honde

Onwettige jag met honde kom al hoe meer voor. Onwettige jagters betree eiendom en beskadig heinings en hul honde val vee sowel as wild aan. Grondeienaars is gefrustreerd omdat hulle sukkel om sulke oortreders aan die pen te laat ry. Grondeienaars en jagters is nie vertroud met die regte van grondeienaars nie.

dogsDit wil voorkom asof die polisie ook nie altyd op hoogte van die wetgewing is nie. Veral die Omheiningswet (Wet 31 van 1963) en onwettige betreding is ter sprake. Omdat die polisie nie die regte van ’n grondeienaar ken nie, kan hulle nie bepaal of ’n oortreding begaan word wanneer persone sonder toestemming met honde jag nie. Dit word vererger deurdat aanklaers en landdroste skynbaar
ook nie met grondeienaars se regte vertroud is nie.

Onwettige jagtogte vind gewoonlik plaas op private eiendom, spesifiek wanneer die grondeienaar weg is. Dit kan dui op betrokkenheid van werknemers. In baie gevalle word die veld vooraf gebrand sodat dit oop is. Wanneer die gras weer begin groei, word diere soontoe gelok en is hulle maklike prooi vir jag met honde.

Grondeienaars wat kla of teen onwettige jagters optree, word geviktimiseer. Hul weiding word ook jaarliks afgebrand sodat hulle nie weiding vir hul vee het nie.  Tradisionele jag mag wel plaasvind wanneer die nodige toestemming verleen is en beheer uitgeoefen word. Jagters met honde mag egter nie op ’n plaas opdaag en vir die pot jag nie.

Ook sogenaamde taxi-jag, wat op ’n georganiseerde grondslag plaasvind, is onwettig. In dié gevalle word tot 60 honde met taxi’s aangery om saam met jagters wild en lewende hawe te stroop. Dobbelary is die hoofmotivering agter onwettige jag met honde. Die eienaar van die hond wat die eerste dier plattrek, is die wenner. Die honde is egter nie selektief wanneer hulle jag nie en bedreigde spesies bly dikwels in die slag.

Indien ’n grondeienaar ‘n bewys het van onwettige jag op sy grond, kan hy die oortreders laat aankeer. huntinh with dogsSulke eienaars moet soveel moontlik bewyse soos foto’s en verklarings van getuies kry, ten einde die arrestasies te regverdig en vervolging te verseker. Die distrikbewaringsbeamptes kan ook gekontak word vir hulp. Waar grondeienaars die jagters op heterdaad betrap, is hulle dikwels in die minderheid en
is dit onwaarskynlik dat die grondeienaar die jagters sal arresteer. Indien die polisie ontbied word, het die jagters en hul honde reeds gevlug wanneer die polisie by die toneel opdaag.

Onwettige jag met honde kom neer op vee- en wilddiefstal, wat deur die howe as ’n ernstige oortreding beskou word. Dien ’n formele klag by die SAPD in, maar kry alle bewyse agtermekaar om die SAPD en die aanklaer te oortuig om aan te kla.

Die wetgewing wat van toepassing is op die onwettige jag met honde is dikwels moeilik om te interpreteer.  Die belangrikste boodskap is egter dat jag met honde en oortreding op private eiendom onwettig is en oortreders vervolg kan word.